Thursday, 01 July 2010

Eet My - 'n preek deur Ds Hentie Kruger

“Ek is die lewende brood wat uit die hemel gekom het. As iemand van hierdie brood eet‚ sal hy ewig lewe. En die brood wat Ek sal gee‚ is my liggaam. Ek gee dit sodat die wêreld kan lewe.” Die Jode het toe onder mekaar begin stry en gesê: “Hoe kan hy sy liggaam vir ons gee om te eet?” Maar Jesus sê vir hulle: “Dit verseker Ek julle: As julle nie die liggaam van die Seun van die mens eet en sy bloed drink nie‚ het julle nie die lewe in julle nie. Wie my liggaam eet en my bloed drink‚ het die ewige lewe‚ en Ek sal hom op die laaste dag uit die dood laat opstaan. My liggaam is die ware voedsel‚ en my bloed is die ware drank.”
— Johannes 6:51-55 —

Hier op die berg langs die see van Galilea is ’n ligte krisis. Hier sit duisende mense. Dis etenstyd. Volgens etiket moet Jesus kos gee. Daarom vra Jesus (vers 5): “Waar kan ons kos koop?”
Filippus vra dadelik onder die dissipels: Hoeveel geld het jy? Hoeveel sal jy kan stoot? Hy kom toe (vers 7) met R4 000 (200 pennings) terug. Nogal ’n aardige bedrag. Maar toe begin hulle sommetjies maak. Nee‚ dit sal nie uitwerk nie. Daar is 5 000 mans. Dit beteken hulle sal vir elke man kos vir 80c kan koop. As elkeen van hulle dan nog ’n vrou en twee kinders het‚ het hulle 20c per kop.
Andreas volg ’n ander strategie. Hy verdwyn in die skare. Hy gaan almal se padkos oppot. Hy kom terug met ’n seuntjie se middagete wat sy ma vir hom ingesit het: vyf broodjies en twee vissies.

En Jesus? Wat doen Hy? Hy glimlag net. Hy weet immers wat Hy wil doen en hoe Hy dit wil doen. Ons is dikwels in ’n verleentheid. Jou eie nood dryf jou in ’n hoek. Dit kan soms met ons wees soos iemand wat hom teen ’n muur vasloop. Jy is in jou hart ontstel oor tydelike en geestelike nood en vrae. Wat nou? Vanwaar kom die redding?
Gelukkig het ons ’n Middelaar wat weet wat Hy wil doen – ook in ons lewe. Ons glo immers in ’n God wat almagtig en alomteenwoordig is. Hy onderhou die groot heelal en al die skepsele is só in sy hand dat lower en gras‚ reën en droogte‚ vrugbare en onvrugbare jare‚ spys en drank‚ gesondheid en krankheid‚ rykdom en armoede en alle dinge nie by toeval nie‚ maar uit sy vaderlike hand ons toekom.
“Hy het geweet …” Hy het geweet van die menigte mense. Hy het ook geweet van hulle behoefte. Hy het ook geweet dat sy dissipels maar net twee honderd pennings bymekaar sou kon skraap en wat is dit om in dié behoefte te voorsien. Hy weet ook van ons nood en behoefte. Hy weet lankal wat op ons wag‚ want Hy lei ons deur sy raad. Hy het egter nie alleen geweet nie. Ons weet dikwels van ons eie en ons medemens se nood en kan daar niks aan doen nie. So is ons Middelaar nie. Hy kan ook doen en Hy wil ook doen. Sy arm is nie te kort om te help nie. Maar veral weet Jesus dat sy wiskunde anders as ons s’n werk.

Jesus tree anders op: hy sê “bring”
Jesus tree ook anders op as wat ons gewoonlik doen en wat ons verwag. Die wêreld maak gewoonlik sy berekening: Vyf broodjies en twee vissies … “Ek kan niks daarmee doen nie‚” sê hy. Hou dit. Jesus sê: “Gee dit vir My.” Niks is vir Hom te eenvoudig of te gering nie. Hy kan dit gebruik.

Jy moet ’n bietjie oplet hoeveel maal jy sê: Ek kan nie! As jy afkyk en net vyf broodjies en twee vissies sien‚ gee dit. Anders kom jy by Desember en dan het jy nog altyd net vyf broodjies en twee vissies in plaas van 12 mandjies oor van ’n vol jaar. Daarom kán jy by die werk maar vol huiwering en vrees getuig. Soms is jou vyf broodjies en twee vissies by iemand in nood maar net jou bewerige glimlag. Die Here sê: Géé dit vir My.

Jesus bid
En dan word dit stil op die berg. Jesus bid (vers 11). Hierdie is ’n baie ou gewoonte wat kom van Moses en die manna en Josua en die intog. Daar is dankbaar opgekyk na die hemel en ’n beraka‚ lofprysing is gedoen. Dit het soos volg geklink:
“Geseënd is U‚ die Ewige‚ ons God‚ Koning van die wêreld‚ wat die hele wêreld voed deur sy goedheid! In genade‚ liefde en barmhartigheid gee Hy brood aan alle vlees‚ want sy genade duur vir altyd. Na sy groot‚ altyd geldige goedheid het Hy ons nie laat gebrek ly nie en wil Hy ons in ewigheid nie gebrek aan voedsel laat ly nie om sy Naam ontwil. Want Hy voed en versorg almal en bewys goedheid aan almal en gee kos aan al sy skepsels wat Hy geskape het. Geseënd is U‚ die Ewige‚ wat almal voed!”

Selfs Jesus aanvaar niks as vanselfsprekend nie. Dit is ’n noodsaaklike deel van sy plan. Hy wat geweet het wat Hy wil doen en hoe Hy dit wil doen‚ Hy vind dit nodig om te bid‚ om met sy Vader te praat. Hy gee aan Hom die eer en die dank. As Jesus dan moes en wou bid‚ sal ons nie ook moeite doen om opnuut aandag aan ons gebedslewe te gee nie? Jakobus het al geskryf: Julle het nie omdat julle nie bid nie. Om twaalf mandjies oorvloed te hê‚ is gebed onontbeerlik.

Jesus breek die brood en sê: “stuur aan”
Nadat Jesus die brood gebreek het‚ het Hy dit uitgedeel. Markus en Lukas lê klem daarop dat die mense die gebreekte brood moes aanstuur – so al op die ry af. Ek weet nie hoeveel kiembewustes daar was en hoe die brood gelyk het nadat dit deur ’n paar duisend hande is nie. En tog het hierdie aangee-aksie ’n belangrike betekenis in die voeding van die skare.

Jy kan net dink wat sou gebeur het as iemand nie aangegee het nie. Die mense verder in die ry sou nie kos hê nie. Alles sou by hom opgehoop het‚ en die mense verder van Jesus weg sou honger hê. Hierdie gedeelte vra van ons: Om wat ek by die Here kry‚ verder aan te gee‚ te deel met mekaar. Moenie dat mense honger ly omdat jy nie wou aangee nie. Al het jy net vyf broodjies en twee vissies‚ dit is noodsaaklik.

Jesus sê: “eet my”
U kan verstaan hoe opgewonde die mense was. Toe hulle die wonder beleef‚ sê hulle (vers 14): Hy is werklik die profeet‚ die een wat moes kom. En dan wil die mense met alle geweld vir Jesus koning maak. Maar Jesus sê‚ “nee.” Hy begin preek (vers 22) oor wat hier gebeur het. Hy gee vir hulle ’n uitleg van die betekenis daarvan. Daarom sê Bybelkenners dat ons hier nie met ’n gewone wonderwerk te doen het nie‚ maar met ’n wonderwerk wat die karakter van ’n gelykenis het.

In sy preek sê Jesus vir die mense: Moenie My koning maak nie. As julle dan iets wil doen: EET MY. Vir julle is ek ’n towenaar. Julle soek ’n towenaar-koning. Maar daardie brood wat julle geëet het: dit is eintlik Ek‚ (vers 41) die brood uit die hemel. Die brood wat óók gebreek gaan word … aan die kruis. Dié brood wat kan meebring dat jy nooit weer honger sal word nie. Dié brood wat regtig versadig en bevredig.

Met hierdie beeld van die eet van sy liggaam wil Jesus onder andere vir die skare sê dat hulle Hom deel van hulle lewe moet maak. Nie net ’n koning wat voor hulle staan nie. Jesus wil deel van hulle lewe word. Maar dit is nie so vanselfsprekend dat mense wat die brood geëet het‚ sal glo en in Jesus wil bly nie. Ons lees hier dat‚ toe die mense Jesus se uitleg hoor‚ hulle ontevrede weggegaan het. Hulle het gesê: Nou raak Hy darem te erg (vers 60). Eintlik het almal weggegaan. Net die paar dissipels het oorgebly. En dis toe dat Jesus vra: “Wil julle nie ook weggaan nie?” (vers 67.)

Jesus vra ook vir ons: Wil jy nie maar ook weggaan nie? Glo jy regtig? Want sien‚ baie van Jesus se volgelinge vandag is maar bloot belydenishandhawers – baie dikwels om hulleself te handhaaf. Dis dié soort letterknegte wat die Woord na die letter handhaaf‚ maar hulle geloof is ’n geraamte sonder vlees en bloed – en veral sonder hart. Hulle ken die kuns goed om die Woord te handhaaf soos dit hulleself pas. “Al sou ek die gawe van profesie hê en al die geheimenisse weet en al die kennis‚ en al sou ek al die geloof hê‚ sodat ek berge kan versit‚ en ek het nie die liefde nie‚ dan sou ek niks wees nie.”

Gebed:
O God‚ o lewende God‚
U het die ewigheid in ons hart gelê;
U het ons honger en dors gemaak
vir U alleen.
Vervul dan self die instinktiewe verlange na U
wat U self in ons harte geplaas het –
sodat ons in die lewe vir U sal vind‚
en die lewe in U.
Ons vra dit in die Naam van Hom wat dit
vir ons moontlik maak:
u Seun‚ Jesus‚ die Christus.
AMEN
(Uit: Die Groot Gebedeboek)